Haliartus

Oorblyfsels van die Haliartus is met laagwater nog duidelik te sien in die rotspoele van Fynbosstrand se oostelike buurplaas.

Die kus (soos 'n groot deel van Suid Afrika se kus) in die Gouritzrivier se omgewing, kan verraderlik wees vir skeepvaart. Verskeie skeepswrakke in die omgewing is opgeteken -hier is n kaart van skeepswrakke teen hierdie kus.

Verseker die bekendste boot wat aan Gourits se kus aan sy einde gekom het, is die Haliartus. Hier volg ‘n opsomming van die gebeure van 1932 soos uiteengesit deur oom Paul Zietsman:

"Die Haliartus van 5 294 ton is in 1919 in Engeland gebou deur die firma J Redhead & Son as die SS Deniston. Sy word later oorgeneem deur die Houston Line en vaar as die Haliartus onder Kaptein JH Malpas met radio-operateur Johnson en Laskare – bemanning in April 1932 vanaf Engeland na SA. Tydens die maritieme hof-ondersoek na die ramp is beweer dat hulle onderweg kompas-probleme gehad het en sirkel tot in Valsbaai rondom die nodige verstellings te doen met behulp van gekarteerde punte op die kus, voordat hulle verder  Ooswaarts vaar.

Aan boord was ‘n gemengde vrag met o.a. 1 200 kiste whiskey, 40 motors – meestal Baby Austins en ook ‘n Rolls Royce, Shell petroleum produkte, Dunlop motor-bande, allerlei gereedskap, melasse, blikkies ingemaakte kos, klerasie, ammunisie en helaas, ‘n paar houers uiters giftige sianied.

Om 04:00 die oggend van 3 Mei 1932 kom stuurman Ernest Coultas aan diens en was die skip volgens die kompas 24 km Suid van die naaste kus. Om 06:00 beveel die Kaptein ‘n koers-wysiging na Noord en om 07:20 vaar hulle skielik in ‘n baie digte misbank in, tipies van hierdie geweste. Toe die Kaptein later bevel gee om te stop, stamp die boot teen die rotse en sit so stewig vas dat selfs volstoom tru hulle nie kon roer nie. Dit was 08:00, Woensdag, 3 Mei 1932, hulle was 9km Noord van die regte koers.

Daar was geen lewensverlies nie, die bemanning is vanaf Mossebaai per boot kom afhaal. Deel van die vrag is oor-gelaai op die Zwazi, ‘n stoomboot van Thesens en na Mosselbaai vervoer, waar dit later per veiling verkoop is. Die bergings-poging onder ene Kaptein Van Delden is gestaak na ‘n geweldige storm wat die agterste 2/3 afgebreek en laat sink het in water so 10 meter diep en die voorste 1/3 tot byna op die kant gespoel het. Hierdie Kaptein is rondom 1950 tydens ‘n proef met ‘n nuwe metode om ‘n wrak weer vlot te maak tydens die berging van die City of Lincoln by Quin-point, Augulhus gedood toe die dek onder hom ontplof het.

Aan wal was ‘n doeane-beampte, ene Mr Reynolds wat geen Afrikaans geken het nie, in bevel van werkers wat die uitgespoelde ware moes versamel en by sy depot lewer. My Pa en oom Wollie Rietvlei het saam die tender gehad
om die goedere vandaar op Mosselbaai te lewer.

Pappie het dit per osse-wa tot by sy kamp, daar waar Oom Sias later sy huis gebou het, vervoer. Dit was die end van die motor-rybare pad en vragmotors kon dit verder na Mosselbaai neem (ek dink dit was Oom Danie van Tonder se lorries). Alles wat by Mr Reynolds opgelaai is, is opgeskryf en Pappie moes dit in Mosselbaai lewer of betaal aan die versekeraars. Die hele kontrei-bevolking het die ramp as ‘ “Gawe van Bo” gesien en het geneem al wat hulle kon wegdra, veral snags teen die steil sandduine uit. Hulle is deur ander dopgehou wat dan weer die weggesteekte ware verder geneem het vir hulle self. Dan kla die eerste oor die skelms wat hulle goed so steel. Die probleem was dat hulle ook by Pappie se kamp ge-oes het en die wagte kon nie altyd als oppas nie maar ‘n boer maak ‘n plan. My pa gaan kuier toe saans by Mr Reynolds, speel kaart en geniet gratis whiskey tot laat, hy het met sy manne gereël dat hulle vroeg daar kom, en sommer begin laai sodat as Mr Reynolds bykom was daar al baie goed op die waens wat nie aangeteken was nie, die manne kon nie Engels verstaan nie en was op bevel totaal onnosel. So het Pappie ‘n voorraad opgebou teen die wegdra. Nadat alle aangetekende ware gelewer was het my Pa net die wagte weggeneem en gou was daar niks by sy kamp oor nie.

Om die vragte se massa te reël moes groot ligte goed saam met kleiner swaarder goed gelaai word soos bv. 5liter olie kanne. Shell maak toe beswaar teen die verspreiding van sy produkte want as daar water bygekom het kon kopers groot skades kry en Shell groot eise teen kom kry. Al die olie produkte moes toe vernietig word. My Pa-hulle maak toe ‘n vuur onder ‘n krans en gooi al die hanteerbare houers op die vuur, daar het glo ‘n stroom vuur soos lawa in die see ingeloop. Ons het tot so 15jaar terug nog oliekan-proppe daar opgetel. Die groter kanne is vernietig deur met ‘n kielhouer-pik ‘n gat bo in te kap en dan die drom om te stoot sodat die inhoud kan uitloop, maar toe kap hulle die gat teen die rand sodat dit bo is as die drom omval en maar min uitloop. Dan is van die sogenaamde leë dromme later verwyder.

Toe ek ‘n kind was was die Navy Blue seemans-truie en sokkies standaard drag in die Duine. Eetgerei, uit die skip was volop in die huise en gereedskap ook op die plase. Whiskey vir medisyne was in alle huise genoeg. Ek weet nie hoekom my Pa so eerlik was nie want hy het niks vir homself gehou wat ek van weet nie. Sy plaaswerkers het daar gehelp met die waens en hulle het my vertel watter reuse visse uitgespoel het want die sianied het alle see-lewe vir etlike myle uitgewis.

Volgens ‘n Natuur-radio-program in die 1960’s soggens voor die 7-uur nuus, is gesê dat die grootste seekat wat nog in ons waters gemeet is, was met die Haliartus-ramp. Sy pote was glo 12vt land. Adv. Fanie Schoeman verwys in sy boek Strike na rooi steenbrasse van 2 tot 2.5m wat daar uitgespoel het. Die werkers het soos konings gelewe want blikkies-kos was volop en gratis, al was die etikette af kon hulle gou-gou die inhoud bepaal deur net na die vorm van die blikkie te kyk. Die inhoud het niks makeer nie.

Daar is baie staaltjies oor die SKIP soos bv. die een oor die Dominee van Albertinia wat so ‘n “Hell and Fire” preek gelewer het oor die stelery by die skip. Hy kom toe ook kyk na die ramp, los sy motor by my pa se kamp en stap die 2 myl langs die see af tot by die skip. My Pa sien toe die toestand van sy motorbande en sit vir hom ‘n hele stel op. Dominee kom niks agter voor hy tuis kom nie maar toe was dit te laat, hy het nooit weer oor die skip gepreek nie.

Al was die see-lewe so uitgeroei was die afsondering die redding, daar het nie mense gekom nie, dus kon die Natuur homself genees en spoedig was die Skip weer ‘n gesogte hengel-plek. Hou net mense weg en die kus herstel sonder hulp van die Staat of wie ookal. Almal eis nou vrye toegang na die see maar die RSA het net 3 miljoen meter kus en 45 miljoen mense wat beteken dat vir elke meter kus is daar 15 mense, wat elk soveel mag aas as wat die lisensies toelaat. Vele lisensie-houers reken hy moet sy kwota stroop, al gooi hy die res ook weg want hy het mos daarvoor betaal.

Ek moet liewer nou ophou voordat ek verkeerde goed sê, maar dink asb. goed na oor regte en voorregte en die verskil daar tussen.
Dankie vir elkeen wat geluister het ..... " aldus Oom Paul Zietsman

‘n 12km Kuspad verbind Gourits met Reins Natuurreservaat. Dit is in hierdie omgewing wat talle skepe op die rotse geloop het. By Reins, in die omgewing waar die Haliartus gestand het, is laterjare ‘n lighuis gebou wat baie gehelp het om soortgelyke tragedies te voorkom!

Hierdie inligting kom uit  'n  oorsig van die geskiedenis van Gouritsmond,  verskaf deur Anna-Marie vd Merwe van die Toerismekantoor, Gourismond








































































 

Make a free website with Yola